Verse van die tentmaker, Omar, die Persiese digter. C.L. Leipoldt
In: Geseënde skaduwees. Johannesburg : Afrikaanse Pers-boekhandel, 1949. P. 12-14.
Die daglig skeur die donker flenters; kyk
Dis goud en silwer wat oor die berge pryk,
En rooi robyn soos hierdie druiwesap,
En net soos hierdie druiwesap so ryk.
Sodra die môrerooi die ooste kleur,
En eer jy nog die son se goud bespeur,
Staan op: dis dag, en met die dag se lig
Bruis op die wierook van die wyn se geur.
Kom drink met my die eerste kelkie wyn
Vroeg in die fraaie môresonneskyn.
Drink en geniet; ‘n ander dag kan kom
Met, plaas van milde liefde, pure pyn.
Nog gisteraand het ek my smart beween,
Ek, uitgeslote ek, wat stil alleen
My pad moes wandel deur ‘n woesteny
Met tyd, en tyd se terge, altwee teen.
Wees bly, o vrind; hou vas die uur wat Is,
En maak daarvan ‘n lewe voor jy mis
Die lewenslus om verder voort te gaan
Op struikelpaaie waar jy jou vergis.
Veeg van jou siel die vrees jy sal vergaan,
Want Wysheid weet dat as die doodsklok slaan
En die Hiernamaals vir jou beet wil kry,
Dat Goedertierenheid jou vrind sal staan.
Hul pla my met paaiboelies en beweer
Daar’s pyn en vlamme wat jou siel verteer.
Hou moed; die hel of hemel wat jy erf,
Is hier op aarde waar jy nou verkeer.
O Noodlotswiel, wat so ellendig rol
En alles flenters trap asof jy dol
En sielloos is, ek vra jou, waarnatoe?
En ag, jy kan nie sê nie, want jy hol.
Die vinger skrywe, en skrif gedaan
Gaan voort en sonder ag op jou te slaan
Al soebat jy die liewe lange dag
En kreun en kerm totdat die nag vergaan.
O mensekind, steun nie op vrinde; hou
Jou eie pad. Laat staan die naberou;
Dra wat jy moet, en huil nie as jy val.
En bly jouself in voor- en teenspoed trou.
Met jou, ou vrind, alleen in die woestyn,
Met jou, ‘n goeie boek, ‘n drankie wyn,
Dan word die woesteny ‘n Paradys
Van lewenskleur en lewensonneskyn.
Daar in die maanskyn waar die maalstroom bruis,
Het ek my bitter droef beween, want tuis
Was dit so aaklig vir my; daar was niks,
Niks anders as die môrewind se suis.
So lawe my met druiwesap vanjaar;
En as ek sterwe, van die druiweblaar
Maak my ‘n doodskleed en begrawe my
In die ou wingerd wat sy geure spaar.
Kyk, dagbreek kom en skeur die swart gordyn;
Die sterre en die dowwe maan verdwyn.
Wees bly; wie weet, as weer die duister daal,
Of weer ‘n nuwe son op ons sal skyn?